Musiek Karnaval!!!

   

   
 
 
 
ROOM VAN AFRIKAANSE KUNSTENAARS IN MUSIEK KARNAVAL BY CARNIVAL CITY IN MAART
  

 

 

    
 
 

 
 
  
 
  
 
 
 

  
 
  
  
 
 
 
 
  
  
   
  
 
 
 
 
 

 

Geniet die laaste maand van die somer met Lefra Produksies se eerste AFRIKAANSE MUSIEK KARNAVAL in Carnival City se Mardi Grasteater hierdie Maart!  Die MUSIEK KARNAVAL word  op Vrydag 6 Maart afgeskop deur SNOTKOP, en ’n ander kunstenaar tree elke Vrydag, Saterdag en Sondag op tot die laaste vertoning op Saterdag 28 Maart.  Besprekings vir die MUSIEK KARNAVAL het pas geopen by Computicket.  Skakel hulle by (011) 340-8000 of besoek hulle webwerf by www.computicket.com.  Groepe van meer as 10 persone kry oudergewoonte ‘n lekker afslag deur vir Cecile Kleyn te skakel op (011) 815-3000 of 073 300-5525.  Besoek ook www.lefra.co.za vir meer inligting.  Skole, kerke en diensorganisasies kan ook fondse met van hierdie produksies insamel.  Skakel vir Cecile by (011) 815 3000 vir meer inligting.
 
Vanjaar se MUSIEK KARNAVAL sluit die room van die Afrikaanse musiekbedryf in, met Snotkop op Vrydag 6 Maart, Jan Blohm op Saterdag, 7 Maart en Mathys Roets op Sondag 8 Maart.  Die volgende naweek hou ons verder karnaval met Sarah Theron op Vrydag 13 Maart, Izak Davel op Saterdag 14 Maart en Randall Wicomb op Sondag 15 Maart.  Coenie de Villers wys waarom hy een van Suid-Afrika se immergroen kunstenaars is op Sondag 22 Maart, en die legendariese Laurika Rauch sluit die karnaval af op Vrydag 27 en Saterdag, 28 Maart.   

SNOTKOP
VRYDAG, 6 MAART 2009 OM 20:00

 

 

Met meer as 35 000 albums al verkoop is SNOTKOP terug met sy splinternuwe, windgat, trefferbelaaide album – ‘So Damn Sexy’.  En op Vrydag, 6 Maart is hy die eerste kunstenaar in aksie tydens vanjaar se MUSIEK KARNAVAL.  Na sy baie suksesvolle debuut CD wat baie vinnig goue-status bereik het, het hy nie minder as nege nominasies en vier toekennings ontvang – waarvan twee MK toekennings was, asook ’n Vonk-toekenning vir beste Rock album.  Sy DVD ‘Snotkop – Spring Lewendig’ is ook genomineer vir ‘n 2008 SAMA toekenning!  Die nuwe album is ’n heerlike mengsel van “retro-beachboy” geinspireërde “pop” en lekker oorspronklike Snotkop styl – Pop Rock.

 

JAN BLOHM
SATERDAG, 7 MAART OM 20:00
Op Saterdag, 7 Maart is JAN BLOHM op die verhoog.  Hy skryf gedigte vandat hy kan onthou, en hoewel sy groot invloed Engelse musiek is, is Afrikaans sy eerste keuse.  Afrikaans is vir hom heilig en hy is baie lief vir die digkuns en probeer die digterlike eienskap aan sy musiek gee.  Jan was nog altyd aangetrokke tot die musiek van Chuck Berry en die ou rock ‘n roll pioniers.  Hy’t altyd na B.B. King en Muddy Waters geluister en plaaslik is die CD’s van Anton Goosen, Piet Botha en Gian Groen nooit ver weg nie.  Hy was met die 14de jaarlikse SAMA-toekenningsaand verlede jaar bekroon met ‘n toekenning in die kategorie ‘Beste Afrikaanse DVD van die Jaar’.

MATHYS ROETS
SONDAG, 8 MAART OM 16:00

 

 

MATHYS ROETS se sangloopbaan het byna twee dekades gelede afgeskop met  musiek van verskeie legendes soos Koos du Plessis en Leonard Cohen.  Vanjaar bereik Roets se sangloopbaan  nuwe hoogtes met sy huldeblyk aan die drie meesters van musiek en liriek, Cat Stevens, Roger Whittaker en Neil Diamond.  “Almal is altyd besig om oorspronklike musiek te bevorder, en hoewel dit vir my sin maak, bly ek eerstens ‘n sanger en ek moet sing waarvan ek hou en wat by my styl en stem pas,” glo Roets.  Op Sondag, 8 Maart kan aanhangers Mathys in die huledeblykproduksie in samewerking met die veelsydige musikant Matthys Maree op die Mardi Gras-verhoog geniet. 

 

SARAH THERON
VRYDAG, 13 MAART OM 20:00

 

 

SARAH THERON is bekend as die “Vurige Diva” in Suid-Afrikaanse musiekkringe.  Sarah het letterlik vlam gevat met ons inheemse style en musiek en nou is sy “DiVA RSA”.  Sarah sing al 24 jaar lank voor gehore van alle soorte en smake, die laaste 15 jaar ten volle professioneel.  Haar werk strek oor baie genres – uitgevoer in orkesoptredes, pantomimes, musiekblyspele en kabaret. Sy het waardevolle ondervinding opgedoen in die eerste 5 jaar van haar sangloopbaan deur amper uitsluitlik buitelugoptredes saam met “live bands” te doen. Dit verduidelik dalk waarom Sarah ewe tuis is met Rock, Jazz, Pop, Gospel, Blues en selfs Kunsliedere!  Wees gewaarsku: na afloop van Sarah se vertoning op Vrydag, 13 Maart, mag jy dalk DiVA-karaktertrekke openbaar!
 
IZAK DAVEL – SCAB IN EGOLI
SATERDAG, 14 MAART OM 20:00
 
Terwyl IZAK DAVEL besig is om die TV-skerms aan die brand te speel as Egoli se populêre Scab, was hy ook hard aan die werk agter die skerms om ‘n ander droom te vervul.  Aanhangers kan Izak op Saterdag, 14 Maart in aksie sien.  Izak het sy debuut CD, “Ken Jy My” onlangs vrygestel, en dis reeds besig om groot impak te maak.  Volgens Werner Beukes van Globo Music International, gaan die Suid-Afrikaanse publiek nie weet wat hulle getref het nie as hulle Izak hoor sing nie.  “Hy gaan, in my opinie, die Afrikaanse weergawe wees van Enrique Iglesias”, vertel Werner.  Sy album, “Ken Jy My?” is 100% trots-Afrikaans, en sluit liedjies uit die pen van Johan Vorster in. 

RANDALL WICOMB
SONDAG, 15 MAART OM 16:00
Gehore in Gauteng is bevoorreg om RANDALL WICOMB in een van sy min optredes hier op die verhoog te sien op Sondag, 15 Maart.  Oor die verloop van meer as drie dekades was hy ‘n ikoon in die Suid-Afrikaanse musiekindustrie, ‘n dryfveer agter Afrikaanse volksliedjiekomposisies en die interpretasie daarvan.  In sy luisteryke loopbaan het vele van sy vrystellings goue status behaal.  Sy gevoel vir wêreldmusiek is duidelik as ‘n mens dink aan onvergeetlike treffers soos “Duitswes Wals”’, “Die Blommeverkopers van Adderleystraat” en “Snoektyd in die Kaap”.  Sy mees onlangse vrystelling is “Hie langes my – Griekwapsalms en ander Tekste”.  Behalwe kunstenaar is Randall ook ‘n kopersmid, pottebakker, gesondheidsfanatikus en kweek hy bonsai-boompies  “Ek is verlief op die lewe!” sê Randall laggend. 


COENIE DE VILLIERS
SONDAG, 22 MAART OM 16:00
Woordsmid, musikant en sanger COENIE DE VILLIERS skuif agter die vleuelklavier in vir ‘n musiekfees soos min op Sondag, 22 Maart.  Hy speel liedjies vanaf sy voorgenome CD wat in April 2009 vrygestel word, asook komposisies vanaf sy 2008 “Weerlig oor die See” album.  Hierdie album word deur kritici as een van die beste Afrikaanse albums in die geskiedenis beskou.  Daar is bekende treffers in ‘n nuwe gedaante, en dan is daar altyd ‘n skeut blues soos net Coenie dit kan doen.  Is dit die woorde of die melodieë wat ‘n mens bybly?  Kom luister self na Coenie…  

 


 
 
 
 
 

27 EN 28 MAART OM 20:00
Die legendariese LAURIKA RAUCH sluit vanjaar se MUSIEK KARNAVAL af op 27 en 28 Maart.  Haar sangloopbaan het in 1976, met die begin van televisie in Suid-Afrika, afgeskop.  Sy is deur Stephan Bouwer gevra om te sing in die program “Fyn Net van die Woord” en toonsettings te doen van Afrikaanse gedigte, soos die nou reeds bekende “Toemaar die donker man”, ‘n gedig van Ingrid Jonker.  Haar rol in die ontwikkeling en vestiging van die “nuwe Afrikaanse lied” is reeds geskiedenis.  Deur die loop van haar loopbaan was daar ‘n hele paar optredes in Europa en Oos-Europa, daar was televisie-optredes, teaterproduksies en tussendeur is sy soms ook stem- en produksieregisseur.  Een van haar mees onlangse bydraes tot ons musiekerfenis, is die twee en ‘n half uur lange DVD wat sy en regisseur, Johan Badenhorst, saamgestel het uit die programme van die Kyknetreeks: “Kom Laat ons Sing –‘n Musikale reis van Laurika Rauch”, wat handel oor die ontwikkeling van die Afrikaanse liedjie sedert die dertigerjare.  As ‘n mens kyk na Laurika Rauch se enorme bydrae tot die Afrikaanse liedereskat – bykans 220 nuwe liedjies wat sy oor die jare aan die publiek bekend gestel het – kan ‘n mens nie anders as om te wonder wat se groot dinge dalk nog voorlê nie! 
LAURIKA RAUCH

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s