Vrydag, ET se storie

Dagsê Almal

CC lekker om jou weer hier te hê!  Toemaar ek verstaan van die besig wees ding.  Ouens ek het vir Paula ‘n posduif gestuur, sal julle laat weet as ek van haar iets hoor.  Jammer ek kry nou eers kans om iets te kom sê, ek het regoor die stad rondgehol en gejaag om iets by die lisensie kantore gedoen te kry. 👿 ek haat red tape 😈

OK, ek skuld julle iets, ek het belowe om te kom praat oor Amos van der Merwe se boek.  Dit is dan ook die eerst klem wat ek wil lê, dit is NIE Eugene Terre’Blanche se boek nie, hy het wel dele daarvan aan Amos vertel en hy’t die boek toe geskryf.  Ek moet eerlik sê dat die boek al van 26 Mei af in my huis is.  Ek het hom eintlik vir Hannie gekoop en toe uiteindelik besluit om ook te lees.

Ek voel kriewelrig as ‘n boek aan my voorgehou word as ‘n biografie en die hoofkarakter se storie word onvolledig vertel.  Ek sou graag ‘n meer chronologies volg in die boek wou gehad het.  Iewers langs die pad word dit ‘n geskiedenis les wat mense soos Piet Retief, Mangope, Buthelezi, FW, Vorster en Constant Viljoen insluit.  Dit word ook amper ‘n teologiese reis.  Dit vertel my eintlik so bitter min van die man, wie was ET werklik?  Ek sit die boek neer en dink, ja hy was iemand wat die geskiedenis goed geken het en wat duidelik die Bybel geken het en aanhalings uit albei kon baie maklik van sy tong afgly, maar ek het so pas ‘n “biografie” klaar gelees en ek het waaragtig nie die mens ontmoet nie.

Daar is een hoofstuk waaroor ek wel iets wil sê, dalk omdat dit die naaste aan die mens gekom het en dit is hoofstuk 18 – Drome van ‘n Vader;  hierdie hoofstuk begin met die volgende gedig:  Dit was herfstyd toe God haar stuur.  die graan was amper ryp en sy in die hartekou, ‘n nuwe vuur sonder spraak, met oe donkerblou, die honger jare se pyn, die kleulose seisoene grou, pap druk in haar handjies klein.  In hierdie hoofstuk vertel Eugene deur die skrywer van hulle hunkering na ‘n kind, hoe hulle dan ook na baie jare se verlang en versmagting ‘n kind aanneem, ‘n dogtertjie, Bea, sy vat hulle lewens in haar klein handjies, soos kinders maar maak.  Dan die kontras, hoe hierdie kind die prys moes betaal vir die keuses wat haar vader gemaak het.  Hy skryf:  My dierbare dogter is in haar vormingsjare met die publisiteit en berigte gekonfronteer … die venyn van daardie beriggewing het ‘n verwydering tussen ons meegebring.  Ek sal vandag my geboortegrond gee om daardie letsels te genees … Ek wil net beklemtoon:  Dis nie net die media se skuld nie, dis nie net die politiet se skuld nie.  Ek wou graag iemand wees na wie mense kon opsie, iemand wat ‘n volk van ballingskap na vryheid kon lei… My huwelik, hoewel standvastig, dra die letsels van die verlede.  My ouerskap bloei as ek aan my dogter dink.  Dan vertel hy verder van sy inhegtenisneming  hoe Martie en Bea kos moes insmokkel na hom toe en toe eendag:  Bea wil vir my ‘n sjokolade gee.  Dis ‘n Bar One wat sy gekoop het om aan haar pa te gee, ‘n troosgeskenk om die bitter in my mond weg te vat…die glasskerm maak dit onmoontlik.  ek kyk hoopvol na die bewaarder en hy knik…Toe ek my hand uitsteek om die sjokolade te aanvaar, word dit behendig deur ‘n ander bewaarder onderskep…Bea se oe skiet vol trane…

Dit is die enigste plek tussen 282 bladsye waar Eugene Terre’ Blanche verantwoordleikheid vir enige iets aanvaar.  Al die ander goed wat met hom gebeur het was iemand anders se skuld, FW, Constant, Vorster, die ANC, die Nasionale Party en nog vele ander, maar hier wanneer dit oor die seer en verwydering van ‘n vader en kind gaan erken hy dat omdat hy die Afrikaner se redder wou wees mense seer gekry het.  Die agterstevoor wêreld waarin ons lewe en wat ons veroorsaak kom duidelik uit:  ‘n troosgeskenk om die bitter in my mond weg te vat.  Hoe verkeerd om is dit nie, dit is die ouer wat die kind moet troos, die bitter en die trane moet wegvat en dan die bitter spyt wat soos altyd te laat kom:  Ek sal vandag my geboortegrond gee om daardie letsels te genees.  Daardie kans is hy nie gegun nie, die lewe het ander planne gehad.  Die vraag ontstaan ook onwillekeurig kan die verwydering en letsels ooit genees word? 

As ek een vraag vandag aan hom kon vra, sou dit wees:  Was dit die moeite werd, sou jy dit weer doen?  Lees ek die boek verder kom die antwoord:  ek doen dit steeds;  want steeds het ET geglo dinge kan wees soos wat hy gedroom het, het hy geglo hy kan Den Haag toe gaan om aanspraak te maak op ‘n stuk grond vir die Afrikaner.

Dus ter afsluiting gaan ek nie ‘n mening oor Eugene Terre’ Blanche uitspreek nie, want jammer die geleentheid het hom nie voorgedoen om hom te leer ken nie, die bietjie wat ek wel van hom gesien het deur die oe van Amos van der Merwe, laat by glo dat sy drome nie realisties was nie en as die prys wat jy moet betaal vir jou drome jou gesin se geluk is, dan is daardie prys altyd te hoog.

Rustige naweek vir elkeen van julle.

Advertisements
This entry was posted in Mense.

17 comments on “Vrydag, ET se storie

  1. Cupcake sê:

    Ingrid, baie dankie vir hierdie raak opsomming, ek het half so iets verwag. Het maar vir boek laat kom vanaf Kalahari. Kannetjie moet darem eendag die dinge vir sy kinders kan vertel en lees in Afrikaans!

    Dit is seker nog iets wat bydra tot die “mistiek” van hoe oom ET se kop gewerk het. Maar in my boek, offer mens niks op as jou gesin en veral jou kind gaan seerkry nie, mense verskil gelukkig. Mens kan nie help om te dink hoe hulle moes voel met alles wat in die media verksyn het na sy afsterwe nie. Sy vrou moet voorwaar ‘n baie, baie sterk mens wees!

  2. Bella sê:

    Cupcake ek stem saam. Sy moet n sterk vrou wees. Thx Ingrid. Die gedeelte van ” drome van n Vader” het ek oor en oor gelees. Ek het nie so n sagte kant van hom verwag nie, seker maar omdat n mens dit nooit gesien het nie.

  3. Bella sê:

    Maaikies, Ingrid en lesers julle moet n wonderlike naweek hè. Ek sal af en toe inloer.

  4. Paula sê:

    Die posduif het nog nie by my uitgekom nie ….. 🙂

  5. Ingrid Marais sê:

    Paula ek sal Maandag weer try ons worry oor jou nou dat jou blog gesluit is. Mooi naweek vir almal.

  6. Smurfi sê:

    Ek kan nie veel oor E.T. sê nie, was nooit regtig vir die ver regses nie. Wat ek wel glo is dat hy moontlik die agteruitgang van ons land sien kom het voor ons nog daaraan kon dink. Hy het ‘n moontlik ‘n Obsessiewe trots en liefde vir sy Volk (die Boere nasie) gehad sommige mense se trots op hul land, hul vlag hul geskiedenis en dan ook Afrikaans as taal, is van kleintyd so in hul in geprent, veral onder die ouer garde en dan maak dit erg seer as jy sien en weet dat onbevoegdes die land gaan regeer, en ook nog as alles net so weggegee word ( en dan kyk jy hoe val alles waarvoor jy so lief is uitmekaar). Ek glo nie hy was ‘n ou wat alle ander rasse regtig gehaat het nie, hy wou net baklei vir die reg van die blanke in sy land. Dom was hy sekerlik ook nie, as mens na hom geluister het, na hy uit die gevangenis gekom het, het hy tog baie sin gemaak, hy wou net sy mense beskerm, en eronies word hy toe ook vermoor nes al die ander Boere. Hy wou baklei vir ‘n plekkie in die land, vir die wat eintlik nou besig is om die verdruktes te word, in hul eie land onder dieselfde son wat oor almal skyn, ek wonder of hy regtig apartheid wou terug hê, ek glo net soos ons wil niemand dit terug hê nie, net ‘n land van vrede wat regeer word deur mense wat weet wat hulle doen.

    Maar soos ek sê ek het nou nie regtig gedelf in sy Geskiedenis nie en het maar min van hom geweet behalwe dat hy van sy perd afgeval het , wat die media sekerlik nou nog oor en oor sal wys.

  7. Bella sê:

    Môre almal.
    Ai, en toe verloor die Bokke weereens. Ek hoop julle het lekker gerus die naweek. Ek gaan n bietjie “missing” wees tot vrydag toe, maar ek sal af en toe inloer. Manlief gaan vir die knie operasie en ek sal baie besig wees. Lekker week vir julle almal.

  8. Smurfi sê:

    Hi daar almal.

    Bella ek wou ook nou net gou kom sê dat ek ook maar vir ‘n hele rukkie weg gaan wees en nie maklik by Pc. sal uitkom nie. Sterkte daar met jou man se knie operasie, mag alles goed afloop, ek weet hoe dit mens se dag omver kan gooi so met die Hospitaal toe en terug en dan nog verpleegster speel by die huis, ek dink aan julle .

    So aan al die ander maatjies, ek sal so af en toe kyk of ek kansie kry om te kom inloer.

  9. Bella sê:

    Hi almal.
    Thx Smurfi.

  10. Bella sê:

    Hi almal.
    Loer net vinnig in. Was heeldag by die hospitaal en is baie moeg. Môre gaan ek weer. Vandag is al die toetse gedoen en die operasie is môre. Hou styf duimvas julle. Gesels weer binnekort.

  11. Smurfi sê:

    Sterkte Bella ek dink aan julle en glo alles sal goed afloop. Gaan rus nou vanaand goed uit en moenie te veel stress nie.

  12. Cupcake sê:

    Liewe Bella, sterkte daar, seker alles gaan baie goed gaan. Ons hou styf duim vas hoor! Pas jouself op en sterkte en Kebuis Groete vir Manlief!

  13. Bobbejaantjie sê:

    Waar is almal???? Ek kom loer nou al dae lank by die kebuis in en hier is niemand nie. Het julle almal vir my weggeloop? Snik…

  14. Bella sê:

    Hi julle almal.
    Thx julle. Julle is dierbaar. Die nuus van die hospitaal was nie so positief nie, maar ons staan sterk en glo met alles is daar n doel. Ek is oppad hospitaal toe en het net gou ingeloer. Lekker daggie vir almal van julle.

  15. Bella sê:

    Cupcake. Ek sal die kombuis groete aan hom oordra hoor, Dankie maaikie.

  16. Cupcake sê:

    Bellakie, julle bly in ons gebede. Dink aan jou en manlief, dinge het ‘n manier om hulself uit te werk, sterk wees maaikie. xxx

  17. Bella sê:

    Thx Cupcake.
    Bobbejaantje ons sal nooit vir jou wegloop nie. 😆 Binnekort gesels ons weer lekker. Lekker slaap almal.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s