Dis naweek!

Dagsê

Ek kan dit nie glo nie, nog ‘n week is verby.  Mense wat gaan aan? dis asof ek my oë knip en ‘n hele leeftyd sal verby wees. 

Ek kan julle seker nou maar vertel van die een groot verandering wat daar in die laaste bietjie meer as ‘n week in ons lewens gekom het.  Ek het julle al vertel dat Quinton baie besig is en erg impulsief is.  Ek het vir vier jaar lank gesê:  ek gaan nie my kind op Ritalin sit nie, hy is nie so hiperaktief nie, hy gaan slaap op tyd, slaap die hele nag deur en kan in die arbeidsterapeut se kamers sit en werk vir die tyd wat hulle van hom vra.

Intussen tap dit elke stukkie geduld uit jou uit as jy elke keer vyf keer oor en oor dieselfde moet sê.  Ons sit tot na 9 uur in die aand en probeer somme leer, ek koop om met ‘n slukkie koeldrank as hy begin huil sy keel is seer en hy kan nie meer antwoord nie, ek huil saam wanneer hy van pure moegheid begin huil en so mooi vra of hy nie maar kan gaan slaap nie en dan kom die toetste terug van die skool af en dit lyk soos 1 uit 20 antwoorde reg.  Die briewe kom:  Quiton het weereens sonder toestemming die klas verlaat.  Vra ek hom hoekom kan hy nie verstaan waarom die bohaai gaan nie, want juffrou het dan gesê die rugby kinders kan hulle klere gaan aantrek en dis wat hy gedoen het.  Praat ek met die juffrou hoor ek dat hy net die helfte van dit wat sy gesê het gehoor het, haar opdrag was:  die rugby kinders kan gaan aantrek wanneer hulle werk klaar is.  Hy kom vra later is daar nie iets wat ek kan doen nie, want dit lyk asof hy nie kan hoor in die klas nie, hy doen alles verkeerd.

Die keerpunt kom verlede Maandag aand toe hy sy werk van die hele kwartaal huistoe bring om te teken en ek sien hoedat hy tenspyte van al ons harde werk uiters swak punte kry.  Dinsdagoggend praat ek met ‘n kollega, ‘n sielkundige, uiteindelik met ‘n neuroloog en ek besluit, net miskien is chemikalieë tog die antwoord.  Ek kan nog cope met die herhaling by die huis, Hannie is my anker, my wegkruip plek waar ek kan gaan skuil as ek so moeg gepraat is, so raadop is dat ek net op die bed gaan sit en huil, maar ek weet ook baie goed watter strain dit op ‘n verhouding en ‘n gesin kan sit.  Steeds is sy die engel wat sy altyd was en is elke oomblik daar, elke treë en elke traan.

Dinsdagmiddag na ‘n rugby wedstryd sit ons oorkant ‘n dokter en bespreek die saak deeglik, ek vra al die vrae, sal my kind nie in ‘n stil bondeltjie verander wat nooit weer sal buite speel nie?  Sal hy steeds hardloop en lag en soms stout wees?  Ja ek het reeds al die navorsing gedoen, maar ek wil hê hierdie groot man met die sagte stem moet my weer vertel dat dit ok sal wees.  ‘n Vriend is geskok om te hoor dat ek sulke vrae vra, hy het nie verwag dat iemand met psigiatriese kwalifikasies sulke goed sal vra nie, maar hierdie gentle giant antwoord al die vrae rustig en dan haal hy sy boekie uit en skryf die woorde Conserta 18mg daagliks neer.

Ek gaan apteek toe, het eers ‘n fight met die mediesefonds wat nie wil betaal daarvoor nie en dit is waar die post vir die kollega verlede week vandaan kom, want sy raak betrokke en help om die pille te kry.  Nou is dit geregistreer by die medies as chronies. 

Donderdagoggend gee ek hom sy eerste pilletjie, steeds bang dat dit ‘n fout is.  Ek stuur die foubiljet saam skool toe, vra die onderwysers om hom dop te hou.  Dieselfde middag kry ek ‘n oproep wat steeds trane in my oë bring:  “Hallo Ingrid dit is M……… ek wil net vir jou sê dat Quinton vandag vir die eerste keer sy hele storie kon skryf, sy leesles gelees het en vol punte vir sy speltoets gekry het”  Ek maak die middag sy huiswerkboekie oop en daarin is ‘n brief van sy klasjuffrou af, die oproep was van die HOD af: “lees goed, geen gedragsprobleme vandag nie, baie dankie.”

Ek wil nie glo dat dit wel so vinnig kon werk nie, totdat ek nog verder gaan navorsing doen en ja dit begin binne 1 uur te werk en werk volkome uit die sisteem uit binne 12 en ‘n half uur.  Dit bou dus nie op in die sisteem nie en sou hy getoets word 14 uur nadat hy die pil gedrink het sal geen teken van die aktiewe bestandeel gekry word nie.

Nou is dit 10 dae later, Quiton kry nou 9 uit 10 antwoorde reg, soms 7 uit 10, maar dis beter as 1 uit 10!  Hy speel nog, raak nog stout, vat nog kanse om langer buite te bly as wat hy mag, maar daar is ‘n verskil in sy denkpartone.  Hy vloek nie meer sommer iemand as hy kwaad is nie, hy begin dink voordat hy doen.

Ons ry verlede Vrydagoggend skool toe en hy sê vir my die volgende:  “Mamma, ek kon gister hoor wat juffrou sê, ek kon mooi sien en ek kan nou dink ook, het jy dit geweet?”

Wat probeer ek sê?  Nie dat medikasie die alfa en omega van probleme is nie, maar wel dat daar kere is dat ‘n chemiese probleem net met chemikalieë reggestel kan word.

Meer as dit wil ek sê:  Hannie, dankie, die woord is ver te klein om te sê hoe ek voel.  Daar was al soveel goed wat ons saam deurgemaak het, maar hierdie las het jy elke dag probeer om van my skouers af te vat en om dit joune te maak.  Ek was hardkoppig, het eers soveel ander goed probeer en het daardeur ook vir jou soveel onnodige stress veroorsaak, maar jy het bly staan, nie vir een oomblik was dit eers ‘n remote opsie vir jou om weg te stap nie, jy was elke oomblik daar.  Dalk was die rede waarom ek so hardkoppig moes wees dat ek eers moes wag totdat hierdie middel op die mark gekom het, want dit is nog nie baie lank beskikbaar nie, steeds jy was daar en ek weet jy sou vir die volgende 10 jaar steeds so voort gegaan het as ons nie ‘n hulpmiddel gekry het nie.  Dit is dinge soos hierdie wat my weer laat besef hoe sterk daardie beloftes is wat ons gemaak het, nie net voor ds. Trevor nie, maar reeds so lank voor dit alreeds aan mekaar gemaak het.  Baie dankie dat jy steeds daar is en dat ek kan weet jy sal steeds daar wees.

Advertisements

24 comments on “Dis naweek!

  1. Bella sê:

    Hi Ingrid.. Dankie dat jy dit met ons gedeel het. Ek glo dat dit nou beter sal gaan. Drukkie vir hom hoor en dankie aan Hannie vir al haar bystand. Sy is spesiaal..julle moet ñ wonderlike lang naweek hê en rus net lekker.

    Aan almal wat hier lees en kombuis mensies lekker naweek en wees veilig..

  2. Ingrid Marais sê:

    Bella, jy’s reg sy’s een uit miljoene, ek ruil haar vir niks en niemand, geen geld glans of charm kan eers begin om my ogies te laat wegdraai nie.
    Lekker naweek ook vir julle en groetnis vir Chomp.

  3. Son sê:

    Soms is dit beter om elke dag ‘n pil te sluk en normaal te kan lewe, as om NIE daardie pil te sluk nie. Uit ervaring weet ek dat dit beter is as my kind ‘n pil elke dag drink as wat my kind nie meer kans gesien het vir alles nie en ‘n einde gemaak het daaraan. Sterkte aan jou kant 🙂

  4. Ingrid Marais sê:

    Baie dankie Son, dis baie waar wat jy sê. Ek moes besluit of ek my kind gaan laat raas kry elke dag en laat label as ‘n stout kind of hom elke oggend roep om ‘n klein geel pilletjie te laat sluk en dit net nog makliker te maak vir mense om vir hom lief te wees.

  5. Bella sê:

    Ingrid Chomp stuur ook groete, sy is besig met ñ kursus en dit gaan ñ bietjie dol. Sy sal weer van haar laat hoor.

  6. Bella sê:

    Okey Bella smile van oor tot oor….
    S*T*O*R*M*E*R*S !!!!!!! En dit op loftus… EINA.

  7. seegogga sê:

    ‘n Baie interessante inskrywing, uit mediese oogpunt Ingrid! So bly dit doen jou kindjie goed.

  8. thysleroux sê:

    Interessante glitter animation…
    langbeen girl! Sjoe! 🙂

  9. Willa2 sê:

    Mole, mole almal.

    Ingrid ek weet van baie ouers wat nie daai rigting wou gaan nie, maar dit teen die einde tog moes doen en hulle was nie spyt nie. Alle voorspoed daar.

    Ek dink ons moet maar die troepe uitstuur sodat hulle vir Telkom kan gaan help, anders gaan Smurfi nooit weer hier uit kom nie.

  10. meermin sê:

    Dagsê en dit WAS naweek, en dit is alweer amper naweek!! Waar kruip julle weg ❓ 🙂 😉

  11. Bella sê:

    Hi julle…Willa2 nee jong die troepe is weg saam met Smurfi…… Onthou hulle het haar gehelp trek..? Ek sal maar weer ñ klompie werf… Hoop dit gaan nog goed met almal… Cupcake trek jy ook ? Lekker dag vir almal !!!!!

  12. Anna F sê:

    Hierdie inskrywing het dit vir my gedoen!

  13. Willa2 sê:

    Mole mole. Dis naweek!
    Gits Bella, ja ek het skoon vergeet. 😆 Jy sal maar nog troepe moet werf. 😆

  14. parkes1 sê:

    Hi Ingrid hoe gaan dit, hier goed. Mike het nou uiteindelik vir die MRI Scan gegaan en die dokter wil nou “Epidurale Kortisoon Inflirtasie” doen op laerug So nou wag ons eers weer vir goedkeuring vanaf WCA. Ek bel daar maar glo my niemand tel daai telefone op nie, Sal maar net weer en weer bel.

  15. Bella sê:

    Willa2….ek het uitgestuur almal is missing… Ingrid ook. Bobbejaantjie is skoon van die aardbol af !!!!! Lekker naweek vir almal !!!!

  16. Bella sê:

    Môre almal…. Lekker week vir julle almal !!!!!

  17. Skoor sê:

    Dag almal en kie!

    Ai Ingrid, en soms is daar lig aan die einde van die tonnel!!! Dis wonderlik.

  18. Ingrid Marais sê:

    Ok tegnologie is totaal teen my, my posts verslyn net nie, het gisteraand goed my se gese en alles vir niks sn here goes! Debra Patta jys n DOOS!!! en dit het niks te doen met die 25 plus doodsdreigemente wat n vriend al gekrx het nie. Julle ken my eks my eie mens met my eie brein en mond, mal vir Zwai Bala, sad oor Chris Hani nie meer hier is nie, maar befok oor elke moord, onreg op grond van kleur, ek sit op n transformation komitee en sien hoe belaglik sekere argumente is, maar ek sal ook nie n swart persoon verkrag nie, maak dit my n rasis? Well then so be it, met trots. Dis maklik om jou bek te rek oor n land nadat jy jou Zulu man gelos het, is dit nie ook rasisties nie? steeds n hotel in Rome besit- sal maklik wees om Italie toe te hol as crime te na aan jou kom, of hoe Debs? At least praat Steve WTF maak dit saak of hy dit van n wa af doen, dankie Steve, dat jy nie vir jouself en ons lieg oor die beatiful rainbow nie. Veilige dag vir almal van julle.

  19. meermin sê:

    Raai wat ❓ Dit is amper alweer naweek 😉

  20. Bella sê:

    Hi Ingrid. Sjoe ek kan sien jy is kwaad. Met reg ook…. Ek het dit ook gekyk en wou iets daarooor sê, maar het maar daarteen besluit…ek was nou so bly toe ek sien jy sê iets daaroor…..Lekker daggie verder vir julle…

  21. Bella sê:

    Daaroor….sorry.

  22. Ingrid Marais sê:

    Hi, Maandag is ek volstoom terug! Whahaha Steve, goeie April fool tweet 😆 😆 Bella hier praat ons mos net wat ons wil. Lekker naweek.

  23. Bella sê:

    Ingrid en kombuismaats iets verskriklik het gebeur… My suster se dogter se man (haar skoonseun ) is gister vermoor… Hy is 2 keer in sy kop geskiet…hy is eers beroof. Hy was ñ besigheidsman…hy is voor sy vroutjie geskiet en hulle het ñ 3 jarige seuntjie… Ek gaan ñ rukkie stil wees hier op die blog, maar gesels so gou as wat ek kan weer. Veilig wees almal..

  24. Ingrid Marais sê:

    😥 Bellakie ons is saam met julle, ek het nie woorde nie net trane. 😥

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s